Ek’t vanoggend amper my kar omgegooi oppad werk toe. Ek draai in ons hoofstraat in, nadat ek die kinders by die kleuterskool gaan aflaai het. Op een van die besigste interseksies (daar is 2 skole weerskante van die straat, met busse en ouers in hul tientalle wat kinders aflaai) draai ‘n vrou in die ander rigting. En dis hier waar ek dit toe nou heeltemal verloor. Haar dogtertjie, nie ouer as 3 nie, hang met die helfte van haar lyfie by die venster uit. Die onskuldige ou dingetjie geniet dit natuurlik vreeslik, met die boksterte wat waai in die wind is sy salig onbewus van die gevaar wat haar ma haar toelaat om in te wees.
Ek draai toe sommer in die eerste straat af en ry terug in die rigting waarin die ma gery het, maar ek kon hulle nie opspoor nie. Ek was reg om die vrou se fortuin vir haar te vertel. Weet sy dan nie hoe gevaarlik dit is nie??
Daar is baie dinge waarmee my kinders wegkom, maar as ons in die kar klim is die reëls duidelik. Jy sit stil, niks hang iewers buite die venster uit nie, en jy klouter nie rond nie. Altwee van hulle het karstoeltjies.
Ek sit nou met ‘n tameletjie van ‘n probleem. Franco (amper 5!!!) word nou bietjie groot vir sy stoeltjie. Dus word hy soms toegelaat om voor te sit, met die veiligheidsgordel stewig om sy lyfie. Ek sien nie kans vir ‘n “Booster Seat” nie, omdat my naaste familie 600km van ons af bly, moet die stoeltjie (soos sy huidige ene) kan tilt sodat hy lekker gemaklik kan slaap op die lang pad. En omdat ons tot 9ure ry (ons stop baie dat die lyfies kan rus) moet hy gemaklik wees. Op hierdie stadium kry my seuntjie swaar omdat die stoeltjie nie regtig meer pas vir hom nie, maar ek is nog nie reg om hom te laat maak soos hy wil nie.
Maar om jou kind se veiligheid so voor die hand liggend as niks af te maak…. Wat is nou beter? ‘n Kind wat vir jou kwaad is, gil en baklei, of om jou kind se bebloede lyfie van die die teerpad te moet optel?


5:34 pm
Sjoe…
Seunsgoed van my het op die plaas so amper uit die bakkie gefoeter. Hy was maar ‘n jaar of minder, sy kop was nog baie swaar vir sy lyf, en die venster was nie heel oop nie. Gelukkig was ons op plaasspoed en ek kon hom aan die doek gryp sonder om te bekommer waar die kar heen ry.
Ons het met die afry Kaap toe een jaar, die koelhouers onder by die voete-plek gesit. Dan het die kinders hul voete daarop kon rus. Want waar die stoeltjie die meeste pla op die langpad is maar net hier in die waai van die knie.
Ek was so vies nou verlede jaar. Hulle stop my net voor die dorp omdat ek nie my veiligheidsgordel aan het nie. Kry my kaartjie en hou my bek. Toe ek weer die dorp uitry, sien ek hulle het ‘n ma wat ek ken afgetrek. Albei die kinders (2 en 4) is sonder gordels of stoele. Sy kom tol-los, want was haar verskoning, met die woelige kinders kan sy haar nie vasmaak nie, sy moet kan omdraai om hulle te beheer.
10:37 am
As hy voor by jou wil sit, vou ‘n kussing dubbeld en sit dit onder sy boudjies om hom hoër te maak. Dan sal die veiligheidsgordel ook beter om sy lyfie pas.
Of as jy bereid is om bietjie geld te spandeer koop ‘n afval stuk ‘high density’ spons en plak 2 stukke opmekaar om lekker hoog te wees. Jy kan dit dan vir sussie ook gebruik later.
10:11 am
Ons kan nie versigtig genoeg wees met die kids in die motor nie!! ‘n Ongeluk gebeur so vinnig!
8:59 am
Net een woord vir jou. Kry vir Franco ‘n ordentlike boosterseat! Dit is amazing, John weier om in ‘n kar te ry as sy stoeltjie nie daarin is nie. Dit is ongelooflik gemaklik vir hulle.
9:06 am
Pikkie, maar wat doen ek nou as ons 7 ure na my ma-le toe ry? Kan die booster seats tilt, as hy wil slapies? En my sussie is weer 7 ure in die ander rigting. “sug”
12:10 pm
Laanklaas van jou gehoor! Hoop dit gaan goed!
1:57 pm
Stem saam dat dit erg is. Mens word net vreeslik sleg gesê as jy vir so ‘n ouer iets wil sê. Gewoonlik word dit glad nie waardeer nie.
Ek het dieselfde probleem met ‘n 5.9 jarige wat te groot word vir sy stoeltjie. Ons het al ons stoeljies verniet gekry en geld is skaars vir ‘n ander. Maar mens het net een van daardie kind, net een kans wat dalk groot spyt bring. Dan liewer vas op die agterste sitplek.